Kombiekiehier18+Oor
← Terug

Die Onsigbare Misdaad

16 Oktober 2018

Die Onsigbare Misdaad
Hoe lank gaan ek lees: 5 minute
deur Annelise
 
Ek wil ek julle vertel van ‘n “tipe” slagoffer waaroor niemand omgee nie. Daar is nie wette wat hom/haar beskerm nie, daar is nie ondersteuningsgroepe nie. Dit sal seker meer korrek wees om te sê dat ek julle wil vertel van ‘n misdaad, met sy oortreders/misdadigers asook sy slagoffers waarvan die meeste mense nie eens bewus is nie.
 
Ek weet daarvan omdat ek al meer as tien jaar lank daagliks met die slagoffers te doen kry. As jy by ‘n krisis-sentrum werk kom jy in aanraking met verkragtingsslagoffers, as jy ‘n sosiale werker is kom jy in aanraking met slagoffers van gesinsgeweld, as jy ‘n polisieman is kom jy in aanraking met slagoffers van moordenaars en as jy ‘n politikus is kom jy in aanraking met slagoffers van apartheid. As jy erotiek skryf en ‘n seksuele webwerf bedryf, kom jy in aanraking met die slagoffers van wat ek hier “passiemoord”” sal noem.
 
Die slagoffers van hierdie misdaad (want dit is wat dit is) is mans sowel as vroue en net soos ander slagoffers gaan hulle nie maklik self uitkom nie. Iemand moet namens hulle dit doen en dis waarom ek vandag hierdie skryf.
 
Ek sal elke aspek van die misdaad hier uitpak:
 
Passiemoord (my woord, want as niemand oor iets praat nie dan bestaan daar nie ‘n woord daarvoor nie) is wanneer iemand hulle man/vrou/metgesel in ‘n sekslose verhouding gevangene hou. Die seksloosheid is die misdaad – dis die deel wat skade aanrig. Dit gebeur in ons land en spesifiek in die “kultuur” (Afrikaans, wit en Christelik) waarin ek myself die meeste bevind. Dit het duisende slagoffers. Baie duisende.
 
Lees jy nog, of het jy besluit dis nie so erg nie? Dis tog nie dieselfde as verkragting of moord nie?
 
Ek sal argumenteer dat dit net so erg is omdat dit aspekte van daardie bevat. Jy hi-jack en steel iemand, ‘n persoon.
 
“Seks is nie ‘n hele persoon nie” of “jy is meer as net jou seksuele begeertes” of “’n verhouding bestaan uit meer as seks” kan jy antwoord, maar jy sal verkeerd wees.
 
Want dis nie net seks nie, dit impliseer soveel meer. En jy moes tog sekerlik al gehoor het dat seks nie alles is in ‘n huwelik nie, behalwe as dit die probleem is. Dan is dit alles.
Seks en ‘n seksuele verhouding met jou geliefde is een van die heerlikste aspekte van die mens se bestaan. Dis natuurlik en dis een van die sterkste drange wat jy die grootste deel van jou lewe sal ervaar. Dit bring jou nader aan jou maat, dit laat jou begeerlik en geliefd voel wat jou weer selfvertroue gee, dis goed vir jou gesondheid, dis lekker, dit skep intimiteit tussen julle, dis mooi, dis nodig vir lewensvreugde, dit help vir stress.
 
Al daardie dinge steel jy by jou maat. Jy maak sy/haar lewe ‘n grys afgewaterde, passielose, gefrustreerde, eensame, liefdelose, arm weergawe van wat dit beteken om mens te wees.
 
Jy – die misdadiger – doen dit net soos ‘n vroueslaner aan die persoon vir wie jy kamstig die liefste is.
 
Kom ons kyk hoe ‘n tipiese misdadiger haarself sal verweer. Eerstens kan hulle nooit verby die balk in hulle eie oë sien nie. Die ander is altyd verkeerd. Seks is vuil en verkeerd en om dit te begeer beteken dat daar iets fout is met die een wat dit vra. Net presies soos met ander misdadigers het hulle verskonings vir hulle gedrag en die hartseerste van alles is dat dit gewoonlik hulle slagoffers is wat die verskoning namens hulle opper: “Sy het maar ‘n slegte selfbeeld, sy voel bedreig, hy is baie gelowig, sy ouers het dit veroorsaak, sy het ‘n slegte ondervinding gehad …”
 
Moordenaars en verkragters en vroueslaners het ook verskonings – ons verwag wel van hulle om nie daarvolgens op te treë nie.
 
“Maar oortreders doen dit mos gewoonlik vanuit ‘n plek van mag, en hoe het ‘n vrou in ons land en in ‘n huwelik nou eintlik mag?” vra jy.
 
Hulle gemeenskap gee vir hulle daardie mag. Wanneer dit by seks kom in die Afikaanse, behoudende, Christelike omgewing het vroue al die mag, juis omdat hulle gemeenskap aan hulle kant is. Dis verskriklik maklik om jou eggenoot seksloos en gevangene te hou, juis omdat die onderwerp seks is en ons mense steeds groot probleme daarmee het. So jy is alreeds halfpad “onskuldig” en die slagoffer is alreeds halfpad “skuldig” net omdat dit die onderwerp is. (Klink dit nie soos ander seksuele misdade nie?) Die een wat seks vra voel altyd so bietjie vuil en skaam en ongebalanseerd om dit te vra. Preuts en “ordentlik” en kuis word hoër aangeslaan as passievol en sexy en lus. Jy kan met jou predikant (of sy vrou) of jou vriendinne gaan praat oor jou man te veel seks wil hê, maar nie oor jou man/vrou jou niks gee nie.
 
Jy beheer hom met die kinders, want die meeste mans wil nie hulle kinders verloor nie. Die meeste mans wil ook nie hê dat hulle kinders moet dink hulle is die varke in die verhaal nie – en die seksuele ene is altyd mos die vark. En as dit ‘n vrou is wat die seks begeer, dan is dit net soveel erger, omdat ‘n vrou wat meer seks as haar man wil hê mos duidelik hiper-sexed is en iets fout is met haar. En as dit ‘n vrou is dan beheet jy haar dikwels deur die feit dat sy nie sonder jou finansieël kan oorleef nie.
So hulle bly in daardie huwelik. In daardie tronk. Jy beheer hom met sy werk, met sy familie, sy aansien, jou “liefde” en op die wreedste manier van alles; die belofte van miskien vanaand wat nooit realiseer nie.
 
Dis ook waarom die slagoffer nie na vore kom nie – hy/sy gaan geoordeel word eerder as die misdadiger, want dis mos hoe sulke dinge werk?
 
Dis ‘n vorm van diefstal. Jy steel haar jeug, sy jongmenspassie en lus, haar begeerlikheid wat niemand waardeer nie. Jy steel ‘n drang, ‘n ervaring, ‘n sekere belewenis van jouself. Eendag gaan daardie vuur ophou brand, maar die bitterheid teenoor jou sal nie.
 
Dis ‘n vorm van mishandeling. Iemand in so huwelik openbaar dieselfde soort kenmerke as iemand wat in ‘n huwelik is waar hulle geslaan word.
 
Dis ‘n vorm van boelie, jy doen dit net met die ondersteuning van die absolute afwykende gemeenskap waarin ons leef. Jy doen dit met die ondersteuning van predikante wat steeds verkondig dat seks vuil en verkeerd en sondig is – veral homoseksuele seks. Jy doen dit met die ondersteuning van die mamma’s wat skinder oor die mamma met die kort rompie of los hare, jy doen dit wanneer jy as man updates doen wat kla oor vroue wie se profielfoto’s te veel cleavage wys (en dan doen jy dit as jy een van die honderde vroue is wat so man prys omdat hy so ‘n ordentlike man is), jy doen dit met die ondersteuning van jou vriendinne wat issues het oor seks.
 
Ongelukkig is hierdie nog steeds nie die hele prentjie nie. Ek is bewus van hierdie misdaad omdat jy nie net tevrede is om jou geliefde se liggaam te beroof nie, jy wil elke stukkie seksualiteit wat daar enigsins nog mag oorleef ook vernietig.
 
So hy mag nie porn kyk nie en jy noem ALLES porn (weereens is jou gemeenskap aan jou kant), sy mag nie haarself bevredig nie, hy mag nie webwerwe besoek waar hy ‘n kaal bors kan sien nie, hy mag nie ‘n erotise storie lees nie. Al daardie dinge word ook verbied en jou Here help hom as jy hom uitvang dat hy wel so iets doen.
 
En jou Here help natuurlik ook die persoon of instansie waarop jy dan daardie gevoel dat jy verraai is, gaan uithaal. Die balk in jou oog, is dat jy die verraaier is. Jy verraai die beloftes wat jy gemaak het toe jy getroud is, jy verraai jou liefde, jou geliefde.
 
Mans en vroue praat al tien jaar met my oor seks en oor hulle omstandighede. Ek weet waarvan ek praat. Hierdie misdaad het ‘n slagoffer. Hierdie slagoffers kan net nie ontsnap om self hulle stories te vertel nie.
 
Dan sal ek dit maar namens hulle doen, en aanhou doen.
Die hartseerste sinnetjie wat ek nog gehoor het? “Ek is al lankal nie meer lief vir haar nie, ek bly maar sodat my kinders nie sleg dink van my nie.”
Op kombiekiehier.co.za →